Geskiedenis

 

Inleiding

Raslouw is 'n voorstedelike gemeente in die Suid-Westelike deel van Centurion. Die gemeente is uniek aangesien dit geleë is in die mees Suidelike gebied van die Noordelike Sinode. Ons deel ons Westelike grens met die Sinode van Wes-Transvaal (NG Gemeente Muldersdrift). In die Suide grens ons aan die Sinode van Hoëveld (NG Gemeente Noordwyk).

Voorgeskiedenis

NG Raslouw was oorspronklik deel van NG Gemeente Bosmanstraat. Hierdie gemeente het 'n saaltjie by Monavoni gehad wat ʼn buitewyk was van hierdie gemeente. Die naam "Monavoni" het 'n interessante oorsprong. Die Erasmus-familie en die Ellis-familie het meeste van die grond in hierdie omgewing besit. Die Erasmus-familie het 'n dogter gehad met die naam Mona. Daar was 'n jongman met die naam Gerhard, wat graag met haar wou trou, maar Mona wou nie met hom trou nie en daarom die naam "Monavoni". Gerhard kom nou weer van die Erasmia-omgewing en daarom is die plek Gerhardswil na hom vernoem. In 1944 stig Lyttelton Gemeente af en bedien die hele Centurion-gebied (die ou Verwoerdburgstad). In 1965 stig Sesmylspruit Gemeente af en bedien die westelike deel van Verwoerdburgstad. In 1971 stig Eldoraigne Gemeente af en bedien die gebied nog verder wes. In 1976 verdeel Eldoraigne Gemeente in 3 selfstandige gemeentes, te wete Eldoraigne, Wierdapark en Raslouw. Daarna stig Wierdapark Suid en Monavoni af van die oorspronklike Raslouw. In 1996 ontbind die Gemeente Monavoni en word een met die groter Raslouw. Met al die afstigtings het ons 'n koster, Jan Neethling, gehad wat van geboorte af in Monumentlaan 72 gewoon het en tot sy vertrek op 80-jarige ouderdom daar aangebly het. In sy leeftyd het sy lidmaatskap 8 keer van gemeente verander sonder dat hy een keer getrek het.

Raslouw NG Gemeente het op 31 Maart 1976 afgestig van Eldoraigne NG Gemeente. Met die afstigting het die gemeente uit 790 belydende en 580 dooplidmate bestaan. Die eerste leraarspaar, ds en me J F Hay, is op Vrydag 30 Julie 1976 ontvang en bevestig.

Demografie van die gemeente

Met afstigting in 1976 ontvang NG Raslouw 'n bruidskat van die Moedergemeente (Eldoraigne) in die vorm van 'n 2.1 hektaar kleinhoewe waarop ʼn pastorie gebou is. Die gemeente bestaan uit 2 179 belydende lidmate en 672 dooplidmate. Die gemeente bestaan uit die voorstede Eldopark, Eldoglen, Wierdapark en Celtisdal. Die kleinhoewes Raslouw, Sutherland, Monavoni, Mnandi en Knoppieslaagte vorm ook deel van die gemeente. Binne die gemeentegrense is 'n plakkerskamp, naamlik Spruit, wat hoofsaaklik deur Afrika-immigrante (Mosambiekers, Malawiërs en Nigeriërs) bewoon word. Olievenhoutbosch, wat 'n informele nedersetting is en ook HOP-huise beskikbaar stel, val ook binne die gemeentegrense. Lidmate woon hoofsaaklik in woonhuise en enkele woonstelkomplekse. Ongeveer 20% van die lidmate woon op van die kleinhoewes. In die beginjare was lidmate hoofsaaklike verbonde aan die Weermag en ander Staatsinstellings. Dit het meegebring dat die offisiere hoofsaaklik die Ouderlingkorps uitgemaak het terwyl die Diakens se poste gevul is deur onderoffisiere. As gevolg van die verandering in die Weermag is 'n baie klein persentasie lidmate tans nog verbonde aan die Weermag. Die meeste lidmate is werksaam by privaat instellings in Pretoria, Centurion, Johannesburg en omgewing. Daar is ook 'n beduidende aantal lidmate wat as gevolg van werksomstandighede in Afrika-lande en selfs in ander dele van die wêreld werksaam is.

Die beginjare

Die eerste leraar was ds Hay en daarna volg ds Van Graan en ds Albert Basson in sy voetspore. In hierdie dae is die kerksaal gebou en gebruik vir die erediens. Dr Pieter Raubenheimer kan beskou word as die vader van die gemeente omdat hy die gemeente opgebou het vanaf die tyd van al die afstigtings. Hy was 'n besondere vermoeënde leraar. Hy het elke lidmaat op die voornaam geken. Hy het ook elkeen persoonlik telefonies gelukgewens met hulle verjaardag. Daarom was hy baie geliefd. Die mense het baie hoë agting vir hom gehad. Hy was tog ook 'n moeilike man omdat hy sterk standpunt ingeneem het en dan die hele gemeenskap agter hom gehad het. Sy woord was wet en die grond was heilig waarop hy geloop het. Daarom wou mens liefs nie van hom verskil nie. Dit was ook die geval selfs wanneer hy verkeerd was. Hy het groot geword in die Baptiste-tradisie maar is later bekwaam as predikant in die NG Kerk. Hy begin met die Stoffelstories. Elke Sondagoggend het hy 'n boodskap met die kinders op hulle vlak gedeel deur die karakter "Stoffel" te gebruik. Later is die stories in boekvorm gepubliseer. Sy vrou, Elize, was die orrelis in die gemeente en begin met 'n formele kerkkoor. Sy eerste kollega was ds Rautenbach wat later die skepper van die Studente Akapella-gemeenskap geword het. Dr Pieter is op 'n tragiese wyse oorlede deurdat een van sy oud-katkisante hom een oggend terwyl hy gedraf het in 'n tref-en-trap-ongeluk doodgery het.

Later jare

Ds Hennie Yzzel is 1984 na NG Raslouw beroep, aanvanklik as jeugleraar. Later jare het hy homself bekwaam in die pastoraat en het hy die gespesialiseerde pastoraat in Raslouw hanteer. Proponent Henk Grobler word in 1988 na Raslouw beroep as jeugleraar. Met die eenwording met Ontvou in 1996 word ds Déwyk Ungerer deel van die leraarspan van NG Raslouw. In 2005 het ds Hennie op 'n vroeë ouderdom geëmeriteer. In Junie 2008 word ds Francois Esterhuizen vanaf Elliot in die Oos-Kaap beroep. In 2009 is ds Henk Grobler oorlede aan nierversaking. In 2010 word ds Manie Groenewald as jeugleraar na die gemeente beroep. Hy was slegs 2 jaar in die gemeente. In 2011 word ds Marius Cornelissen, 'n Kapelaan in die Weermag, aan die gemeente gekoppel. In 2012 tree hy uit die Weermag en word beroep as tentmaker na NG Raslouw.

Die bedieningspan word verder uitgebrei deur 2 jeugwerkers (teologiese studente) wat veral verantwoordelik is vir die jeugbediening. Die volgende personeel dien ook in die gemeente: ʼn Kantooradministrateur, registerhouer, leraarsekretaresse, orrelis, opsigter, 2 skoonmakers, tuinwerker en 'n naweekkoster.

Raslouw se visie en missie

Raslouw se logo bestaan uit 'n aantal figure, groot en klein, wat die gemeentesamestelling weerspieël. Al die figure se hande is uitgesteek na die Here in lof en aanbidding. Ons leuse is RASLOUW REIK UIT. 

Visie

Raslouw bring betekenis deur mense wat behoort, groei, omgee en integriteit het.

Missie

Om ʼn lewenskragtige, dinamiese gemeenskap van gelowiges te wees wat in gemeenskap/koinonia met mekaar en met God leef, en wat sy beeld en evangelie na nader nie-gelowiges uitdra.